No Comments! Be The First!
Huldeblyk aan Xris Jordaan
Beste Selfbehoud, ek wil jou graag voorstel aan ‘n persoon wat diep spore getrap het in wat jy vandag ken as Lunsklip. Daardie mens is oom Xris Jordaan. Die kanse is goed dat jy nog nooit van hom gehoor het nie. Kom ek vertel jou. Hy is verlede jaar na ‘n kort siekbed oorlede. Hierdie is ‘n poging tot ‘n huldeblyk…
Ek het oom Xris leer ken in my Selfbehoud jaar net nadat hy oorgeneem het by oom Werner Louw. Oom Xris was Lunsklip se tweede kampleier. Ek het hom leer ken as iemand wat groot gedink het, my geleer het van selfbehoud en my aan ervaringe blootgestel het wat ek nêrens anders in my lewe gehad het nie. Hy het ‘n gawe gehad om die “gees van die tyd” só te lees dat hy dit weer op Lunsklip aan jong Verkenners kon oordra in ‘n vorm wat hulle uitgedaag het om hul gedagtes te rig op dit wat belangrik is en ‘n onseker toekoms met moed in te gaan. Hy het hulle uitgedaag om verder te dink en verder te kyk as wat hul huidige situasie toegelaat het.
Oom Xris was diep bewus van die Afrikaner se roeping in Afrika. Hy wou sien dat elke Afrikaner-jongmens sy Godgegewe roeping in Afrika en die wêreld inneem. Hy wou sien dat elke jong Verkenner - soos jy - leef as leier en voorloper in vooruitgang en die vestiging van ‘n Christen-beskawing in Afrika. Dat jy jou roeping hier voortsit soos God dit bestem het toe jou voorvaders aan die suidpunt van hierdie kontinent gevestig het.
Oom Xris was ‘n filosoof en baie welsprekend. ‘n Staaltjie op ‘n ligter noot. Hy kon baie lank filosofeer en sommer uit die mou uit vir omtrent ‘n half-uur lank gesels oor een of ander hogere onderwerp. Ek onthou hoe hy op keurkamp die taak gehad het om oor een of ander onderwerp te praat in die laat ure van die nag terwyl moeë Verkenners moes staan en luister…
In 1997 het oom Xris “afgetree” uit sy posisie as kampleier en was ek bevooreg om verder op persoonlike vlak met hom ‘n mentor verhouding te hê. Sy doel was altyd om jongmense te kry om hul eie persepsies, verstaan, idees en gevolgtrekkings oor die lewe, mense, bestaan en verhoudinge met ander deurlopend te herevalueer. Hy het my baie uitgedaag oor my eie opvattings oor my menswees en die toekoms en ek sal hom ewig dankbaar wees dat ek iemand soos hy geken het.
‘n Kort rukkie voor sy dood was hy besig met ‘n projek om ‘n nuwe vlag te identifiseer wat vir die Afrikanervolk as nuwe simbool van sy identiteit te kan dien. Soos altyd was hy besig met die Afrikanersaak en die jeug van die toekoms was altyd voorop in sy gedagtes.
Daar is nie woorde of slim frases wat oom Xris Jordaan se bydrae tot Lunsklip kan beskryf nie. Oom Xris en sy gesin het vir baie jare saam op Lunsklip gekamp. Tannie Ria sy vrou, Karla, Pieter-Willem en Cobus het elkeen op ‘n besondere manier ‘n afdruk op die kamp gelaat. Oom Xris was baie lief vir die Lunsklipomgewing maar veral vir jongmense en die Afrikanerjeug van more. Oom Xris se nalatenskap was onder meer die Selfbehoudkenteken wat op verskeie Selfbehoudkampe in die Voortrekkers aangebied word. Dit is as volwaardige kenteken vir die eerste maal hier op Lunsklip aangebied. Hy het Selfbehoud soos volg gedefinieer:
“Selfbehoud is die proses van waarneming, waardering en bewaring van natuur en kultuur deur die Afrikanermens in die uitvoering van sy Godgegewe kultuuropdrag om SY Skepping te bewerk, te bewaak, te heers oor alles wat lewe en om mede-volksgenote te leer om alles te onderhou wat God ons vanuit sy Woord-en Skeppingsopenbaring beveel het.”
Dankie oom Xris, dit was ‘n voorreg om jou te ken. Dankie vir jou omgee en liefde vir die Afrikanerjeug. Dankie vir jou leiding en dat jy vir my vensters oopgemaak het.
Gustaf Pretorius

