Oom Jan Praat: “Lunsklipgoud”

Geplaas Deur red

Dit was vanjaar my veertiende kamp op Lunsklip nadat ek in die jaar van die Buffel ( 1995) begin en die Sterretjiekursus saam met neef Louis gedoen het. Daardie jare het ons gereeld in die Offisierevergaderings moes opstaan en sê hoe lank ons al kamp, en dan het ek die Offisiere bewonder wat al sewe of tien of so kampe agter die rug het. Ek het dit as vanselfsprekend aanvaar dat daar altyd baie Offisiere sal wees met baie ondervinding wat die kamp kan lei. Nou besef ek ons moet dankbaar wees vir goeie Offisiere wat hul vrye tyd en verlof offer ter wille van ons Volk se jeug. Hulle is goud werd.

Na veertien jaar sal ek nog maklik in die Buffel- of Tsesebekamp verdwaal per voertuig, of in die Grootwildkamp te voet (Melissa, jy hoef dus glad nie sleg te voel nie). So groot is “ons kampterrein.” Ons maak of die meer as 3000 ha. Percy Fyfe natuurreservaat ons eie is. Sedert 1997 maak ons ook gebruik van Witvinger natuurreservaat vir Buitegroep - ‘n asemrowende mooi stuk grond van 4800 ha. Vir die afgelope 47 jaar wat ons hier kamp het ons dit as vanselfsprekend aanvaar dat ons altyd die plek vir onsself sal hê en in die reservaat kan maak soos ons goeddink. Die terrein se waarde is meer as baie goud.

Tog kan ons nie die Offisiere of die reservate waarop ons kamp as vanselfsprekend beskou nie. Neef Louis was vir ‘n paar jaar by Varia en het hulle gehelp om ‘n formidabele groep te word. Nou het hy ewe bekwaam ingestap en begin voortbou op ‘n baie lang Sterretjietradisie met groot sukses. Cronjé lyk glad nie soos ‘n nuwe adjudant nie - hy doen die werk sommer so in sy “stride”. Maar hy kom ook ‘n lang pad as Offisier - ek dink 13 jaar. Van Selfbehoudgroep-offisier tot Buitegroephoof tot Adjudant. Kobus en Marilie is ewe onmisbaar as leiers op die Kamp. Wat ‘n ramp sou dit nie wees as hulle moes Zambië toe gaan vir werk nie! Kyk net watter groot rol speel hulle op die Kamp. So kan ek aangaan en ‘n lang lys van goudoffisiere noem. Die punt is, ons het al baie sulke Offisiere gehad in die verlede, maar hul werksituasies en ander omstandighede het gemaak dat ons hulle net vir ‘n paar jaar kon hou.

Hoe lank sal ons nog op die terrein kan kamp? Gaan ons 50 jaar haal? Die nuwe wildbewaarders ken ons nie en is nie so vriendelik as die wat ons tot nou toe geken het nie. Sal ‘n Lunsklipkamp wat op ‘n ander terrein gehou word nog ‘n ware Lunsklipkamp genoem kan word?

Ons moet werk om ons goudoffisiere en ons goudkampterrein te behou. As die oudste persoon op die kamp wil ek dankie sê vir elke Offisier wat hierdie jaar en baie jare voor vanjaar diens gedoen het op die kamp. Baie dankie vir Malan wat bereid was om die leisels as kampleier oor te neem. Ons moet ook hard werk om die terrein te behou. Elke glimlag of groet van ‘n Voortrekker wat ‘n werker of administrateur of wildbewaarder ontmoet, bou verhoudings. As ons die terrein oppas en die veld met respek behandel, sal hulle dit raaksien en meer geneë wees om ons hier te verwelkom.

Kom ons gaan vir goud en maak seker ons kamp nog baie lank hier onder leiding van Offisiere van dieselfde kaliber as wat ons nog altyd op Lunsklip gehad het!

Oom Jan.

Apr 8th, 2008

No Comments! Be The First!

Antwoord hierdie kommentaar

Login