No Comments! Be The First!
BewaarMeer
Op hierdie blad plaas ons skakels na interessante webblaaie wat handel oor ons wêreld en die bewaring daarvan. Ons het ‘n opdrag van God om te heers oor die aarde en dit te bewaar. Die doel van hierdie “plekkie” in ons webtuiste is dan om inligting met mekaar te deel oor byvoorbeeld, Groen aangeleenthede.
Mense wat omgewing skaad nou erger gestraf
2009-09-27 22:13
Jorisna Bonthuys
Kaapstad. – Veel strenger boetes en strawwe kan voortaan opgelê word aan mense wat omgewingswette oortree.
Dít kom nadat twee nasionale omgewingswysigingswette tot dusver in September van krag geword het.
Me. Melissa Fourie van die sentrum vir omgewingsreg in Kaapstad het gesê die land se omgewingswette wat sedert 1998 gepromulgeer is, word in die algemeen as omvattend en progressief beskou.
Sedert die toepassing daarvan in 2005 verbeter is, het dit egter geblyk dat die wette sekere tekortkominge het.
Dit sluit in dat dit nie ’n strafregtelike oortreding was om die kennisgewings wat owerhede ingevolge die Nasionale Omgewingsbestuurswet (Nema) uitgevaardig het te ignoreer nie.
Voorts was van die magte en bevoegdhede van die omgewingsbestuursinspektoraat (EMI) ontoereikend. Die strawwe wat vir omgewingsoortredings opgelê kon word, was hier ook ligter as in ander wêrelddele.
Die departement van omgewingsake is al geruime tyd besig met die hersiening van wetgewing om tekortkominge aan te vul en omgewingswette meer vaartbelyn te maak.
Dit is nou ’n strafregtelike oortreding om omgewingskade te veroorsaak, het Fourie in ’n skrywe hieroor gesê.
Diegene wat nie aan voorskrifte ingevolge die Nema-bepalings oor hul sorgsaamheidsplig of noodvoorvalle gehoor gee nie, kan ná dié jongste wetswysigings strafregtelik vervolg word.
Oortreders kan ’n maksimum boete van R1?miljoen en/of ’n jaar gevangenisstraf opgelê word.
Die maksimum boetes wat vir omgewingsmisdrywe ingevolge Nema, die Luggehaltewet, die Wet op Beskermde Gebiede en die Biodiversiteitswet opgelê kan word, is verhoog tot R5?miljoen en/of vyf jaar gevangenisstraf.
Mense wat verdere oortredings begaan, word deur ’n boete van R10?miljoen en/of tien jaar gevangenisstraf in die gesig gestaar.
Die Nasionale Waterwet kan ook nou deur die EMI toegepas word. Die minister van water-wese kan vir dié doel ’n omgewingsbestuursdirektoraat in die departement aanwys.
Fourie het gesê die wysigingswette (Wet 44 van 2008 en Wet 19 van 2009) gaan onder meer help om die toepassing en nakoming van alle omgewingswette deur die EMI meer vaartbelyn te maak.
Sonjica glo nog altyd bekommerd oor water
Jun 07 2009 09:48:03:373PM – (SA)
Elise Tempelhoff
Suid-Afrikaners moet hul houding teenoor die omgewing “daadwerklik” verander.
“Ons moet volhoubaar begin leef en besef klimaatsverandering is ’n werklikheid.”
So met me. Buyelwa Sonjica, minister van waterwese en omgewingsake, gister gesê in haar eerste verklaring sedert sy dié kabinetspos by mnr. Marthinus van Schalkwyk (voorheen van die departement van omgewingsake en toerisme) en me. Lindiwe Hendricks (voorheen van die departement van waterwese en bosbou) oorgeneem het.
Sonjica is aangestel in die nuwe departement van waterwese en omgewingsake.
Die minister het die verklaring uitgereik voor 5 Junie wat Wêreldomgewingsdag was.
Sy het voorts gesê Suid-Afrikaners moet in ’n groter mate bewus raak van klimaatsverandering.
Mnr. Sputnik Ratau, Sonjica se woordvoerder, het by navraag gesê die minister is veral bekommerd oor die land se kwynende waterbronne in die lig van klimaatsverandering en dat sy haar “aktief” gaan beywer om dit beskerm. Hy het ontken dat sy, as minister van minerale en energie, “onverskillig” was teenoor die land se waterbronne deur “links en regs” mynbou-lisensies in sensitiewe gebiede uit te reik.
“Selfs as minister van minerale en energie was die minister al bekommerd oor die land se water. Sy was nog altyd sensitief teenoor die land se water en het nooit onverskillig opgetree deur mynboulisensies in sensitiewe gebiede uit te reik nie. Hy het gesê mense het ’n opvatting dat sy, as voormalige minister van minerale en energie, mynbou ten koste van die omgewing bevorder het.
“Dis nie waar nie.
“Die minister wéét Suid-Afrika is een van die 30 droogste lande ter wêreld en klimaatsverandering hou ’n direkte bedreiging vir die land se water in,” het Ratau gesê.
Sonjica het voorts in die verklaring gesê Suid-Afrika se leuse vir Wêreldomgewingsdag is “Suid-Afrika, tree nou op. Stuit klimaatsverandering.”
Sy het gesê die boodskap oor klimaatsverandering moet toeganklik wees vir alle mense, veral vir die armes wat aan die ontvangkant daarvan is.
Sonjica het daarna verwys dat die armes juis diegene is wat die kwesbaarste is omdat hulle gewoonlik in ’n omgewing woon wat reeds agteruitgegaan het.
“Die mistiek rondom klimaatsverandering moet verander word, sodat almal dit kan verstaan.”
Luidens die verklaring het Sonjica reeds verlede naweek in Nairobi, Kenia, tydens ’n byeenkoms van Afrika se ministers van omgewingsake (AMCEN) haar “politieke wil gewys” toe sy die Nairobi-verklaring onderteken het.
Luidens dié verklaring het 30 Afrika-ministers van omgewingsake onderneem om aan die einde van die jaar tydens die klimaatberaad in Kopenhagen, Denemarke, “met een stem te praat”.
Die ministers het onderneem om hul verantwoordelikheid jeens die stuiting van klimaatsverandering te aanvaar, maar dat hulle voortgesette druk op ontwikkelende lande gaan plaas om hulle (Afrika) te help om by dié natuurverskynsel aan te pas.
# Suid-Afrika is tans besig om ’n klimaatsbeleid op te stel.
Die beleid sal in 2012 in wetgewing opgeneem word.
Google Earth se Bewusmakingsprojek
Kyk gerus na Google Earth se werk oor die aarde as ekosisteem. Jy moet Google Earth geinstalleer hê op jou rekenaar om die skakels te kan gebruik.
Google Earth Ekosisteem Skakels
Hierdie GE skakel het inligting oor hoe mense met die natuur omgaan.
Breathing Earth
Die webblad poog om die vrystelling van koolsuurgasse en Wêreldbevolking te meet.
The Story of Stuff
Al ooit gewonder waar die goed vandaan kom wat jy elke dag verbruik? Al ooit gewonder hoe die siklus van vervaardiging en vernietiging werk?
Kyk gerus die onderstaande film…
Hierdie Beeld artikel sluit aan by die onderwerp:
50% minder kosproduksie in Afrika in 2020
Mar 03 2009 09:17:57:033PM – (SA)
Elise Tempelhoff
Navorsing dui toenemend daarop dat Afrika weens die veranderende klimaat moontlik teen 2020 die helfte minder kos as nou gaan produseer.
Dit gaan verreikende gevolge hê vir ’n baie kwesbare vasteland waar hongersnood reeds sekere lande weens ’n agteruitgang in grondvrugbaarheid in die gesig staar.
So het prof. Rajendra Pachauri, voorsitter van die interregeringspaneel op klimaatsverandering (IPCC), gister aan sowat 600 beraadgangers op ’n nasionale klimaatberaad in Midrand gesê.
Pachauri, wat per videoverbinding met beraadgangers gepraat het, het gesê Suider-Afrika, wat vir ’n inkomste swaar steun op sy wild- en natuurlewe, gaan teen 2020 ’n afname in toerisme en buitelandse valuta sien omdat diere gaan begin uitsterf. Dit is daarom dringend en noodsaaklik dat lande nou kweekhuisgasse drasties verminder.
Pachauri het ook gesê ’n waterskaarste gaan die subkontinent ook baie swaar tref deurdat 70 miljoen tot 250 miljoen mense oor 11 jaar geraak gaan word.
Afrika het geen keuse nie as om by die veranderende klimaat aan te pas, terwyl sy lande ook hul bydrae lewer om kweekhuisgasse te verminder.
Hy het gesê om dit vir inwoners van dié vasteland makliker te maak om by klimaatsverandering aan te pas sal navorsing voortaan op streekvlak gedoen word.
Mnr. Marthinus van Schalkwyk, minister van omgewingsake en toerisme, het nywerhede wat besoedelstowwe in die atmosfeer vrylaat, gewaarsku dat hulle in die nabye toekoms verplig gaan word om hul uitlaatgasse te meet en verslag daaroor te doen. Hy het gesê lande in die Noordelike Halfrond sal kwesbare en ontwikkelende lande in die Suide moet help om by klimaatsverandering aan te pas.
Pres. Kgalema Motlanthe, wat die openingstoespraak gehou het, het gesê aspekte rondom klimaatsverandering is nou een van die regering se belangrikste prioriteite.
Motlanthe het gesê groter klem op hernieubare energie is nodig in Suid-Afrika en markmeganismes soos ’n koolstofheffing word bekyk.
Van Schalkwyk het voorts gesê optrede om die uitwerking van klimaatsverandering te temper moenie as ’n bykomende las te midde van die globale ekonomiese krisis beskou word nie, maar as ’n geleentheid om groen beleggings op eie bodem te bevorder en in die proses groen werkgeleenthede te skep.
’n Alternatiewe ekonomiese groeistrategie wat minder koolstof-intensief is, moet ingeslaan word om internasionaal mededingend te bly, het hy gesê
As Suid-Afrika voortgaan om sonder koolstofbeperkings te ontwikkel soos nou sal dit die ekonomie op lang termyn minder mededingend maak.
