Nuwe Gasteboek: SêMeer…
Na baie jare spog die Lunsklip webblad nou weer met ‘n gasteboek. Daar is nog heelwat Brits op die blad maar Andreas sal vir ons moontlik aandag kan gee met ‘n vertaling of twee.
Die gasteboek het ‘n sekuriteitsmeganisme om te keer dat allerhande nare internet outjies die blad kaap. Jy sal ‘n grafiese beeld met syfers/letters sien en moet dit dan net so in die venstertjie onderaan intik.
Kliek dan op “Inscribe” en papkuil! dis gedoen.
Geniet!
Kliek HIER vir die GASTEBOEK! ==> SêMeer
Selfbehoud
| Selfbehoud … Dié woord maak ons benoud ons het gekom met benoude bene en dadelik begin met die dag se bedrywighede Ons leer mekaar nog uur vir uur ken en probeer om boontjies van neef Cronjé te wen Alhoewel die kamp straf gaan wees gaan ons voluit, want ons het die gees! Groep 1 Meisies |
Douvoordag het die Taakmag op ons gewag met die trek van ‘n tou het ons spangees gebou. Ons eerste parade het verloop sonder veel skade toe was dit blare genoeg vir ‘n skare. Gesprek oor menseregte lewer groot gevegte. Dit was ‘n lang dag, maar ons is opgewonde oor wat nog wag! Groep 2 Meisies |
Dit is ‘n warm dag op die bus
en ons word geterg met ‘n Engen se badkamer,
maar met ‘n hart vol gees en ‘n blaas vol …
kom ons by die kamp aan.
Oulike seuns spring aan die werk om ‘n badkamer aanmekaar te slaan
vir die meisies wat nog nie desperaat in die bosse ingevaar het nie.
Foto’s een vir een geneem en die bus met ons tasse verdwyn stadig maar seker.
Drilwerk begin …
Links, regs, links, regs, links, links, links … EN
Hoor jy die … oor en oor!
Ons tree aan en leer hul manier van doen.
Ons kry ‘n worsie, appel, piesang en lemoen
en smul lekker onder die boom.
Ons begin met groepwerk:
By punt een leer hul ons van voetwerk
en wys ons al ons voetwerk foute
Ons stap in stilte om by ons toerusting uit te kom.
By ons plekkie begin die pret …
En tente opslaan.
Eers verkeerd, dan op, dan twyfel ons.
Na ‘n rukkie vind ons uit dis verkeerd.
Ons slaan af en begin oor.
Ons leer hoe om behoorlik tent op te slaan.
En toe - uiteindelik - lê ons lekker en slaap vir die eerste aand op Lunsklip.
Olifantjies
Bertus en Albertien van Heerden behoort aan oom Jan en tannie Janie en woon in Pretoria.
De Wet en Marlize le Roux is neef Malan en tannie Lizelle se kinders en kom van Potchefstroom af.
Bertus kamp nou al twaalf jaar op Lunsklip en die res van hulle tien jaar. De Wet en Bertus is ewe oud (amper twaalf), maar De Wet het vir die eerste twee jaar van sy lewe nie hier gekamp terwyl hy in George gebly het nie.
Albertien is so rapsie ouer as Marlize, maar hulle kamp ewe lank. Albertien is alreeds tien jaar oud en Marlize moet nog verjaar.
Vir hierdie vier Olifantjies is Lunsklip loshande die hoogtepunt van hulle hele jaar - selfs meer as hulle eie PD-kampe wat direk na Lunsklip plaasvind!
Ons jongste Olifantjie is Anay Pretorius - sy is ons HoofStoof se dogterjie en net 3 jaar oud. Sy het gedurende die langnaweek vir ons kom kuier en baie harte gesteel. Sy woon ook in Pretoria.
Oros is ‘n Dikkop wat in Pretoria gebore is en saam met die Van Heerdens kom kamp het. Oros het ‘n Buitegroep aanslag oorleef en hier op Lunsklip só vinnig grootgeword dat hy al self begin padda’s vang het.
Oom Jan Praat: “Lunsklipgoud”
Dit was vanjaar my veertiende kamp op Lunsklip nadat ek in die jaar van die Buffel ( 1995) begin en die Sterretjiekursus saam met neef Louis gedoen het. Daardie jare het ons gereeld in die Offisierevergaderings moes opstaan en sê hoe lank ons al kamp, en dan het ek die Offisiere bewonder wat al sewe of tien of so kampe agter die rug het. Ek het dit as vanselfsprekend aanvaar dat daar altyd baie Offisiere sal wees met baie ondervinding wat die kamp kan lei. Nou besef ek ons moet dankbaar wees vir goeie Offisiere wat hul vrye tyd en verlof offer ter wille van ons Volk se jeug. Hulle is goud werd.
Na veertien jaar sal ek nog maklik in die Buffel- of Tsesebekamp verdwaal per voertuig, of in die Grootwildkamp te voet (Melissa, jy hoef dus glad nie sleg te voel nie). So groot is “ons kampterrein.” Ons maak of die meer as 3000 ha. Percy Fyfe natuurreservaat ons eie is. Sedert 1997 maak ons ook gebruik van Witvinger natuurreservaat vir Buitegroep - ‘n asemrowende mooi stuk grond van 4800 ha. Vir die afgelope 47 jaar wat ons hier kamp het ons dit as vanselfsprekend aanvaar dat ons altyd die plek vir onsself sal hê en in die reservaat kan maak soos ons goeddink. Die terrein se waarde is meer as baie goud.
Tog kan ons nie die Offisiere of die reservate waarop ons kamp as vanselfsprekend beskou nie. Neef Louis was vir ‘n paar jaar by Varia en het hulle gehelp om ‘n formidabele groep te word. Nou het hy ewe bekwaam ingestap en begin voortbou op ‘n baie lang Sterretjietradisie met groot sukses. Cronjé lyk glad nie soos ‘n nuwe adjudant nie - hy doen die werk sommer so in sy “stride”. Maar hy kom ook ‘n lang pad as Offisier - ek dink 13 jaar. Van Selfbehoudgroep-offisier tot Buitegroephoof tot Adjudant. Kobus en Marilie is ewe onmisbaar as leiers op die Kamp. Wat ‘n ramp sou dit nie wees as hulle moes Zambië toe gaan vir werk nie! Kyk net watter groot rol speel hulle op die Kamp. So kan ek aangaan en ‘n lang lys van goudoffisiere noem. Die punt is, ons het al baie sulke Offisiere gehad in die verlede, maar hul werksituasies en ander omstandighede het gemaak dat ons hulle net vir ‘n paar jaar kon hou.
Hoe lank sal ons nog op die terrein kan kamp? Gaan ons 50 jaar haal? Die nuwe wildbewaarders ken ons nie en is nie so vriendelik as die wat ons tot nou toe geken het nie. Sal ‘n Lunsklipkamp wat op ‘n ander terrein gehou word nog ‘n ware Lunsklipkamp genoem kan word?
Ons moet werk om ons goudoffisiere en ons goudkampterrein te behou. As die oudste persoon op die kamp wil ek dankie sê vir elke Offisier wat hierdie jaar en baie jare voor vanjaar diens gedoen het op die kamp. Baie dankie vir Malan wat bereid was om die leisels as kampleier oor te neem. Ons moet ook hard werk om die terrein te behou. Elke glimlag of groet van ‘n Voortrekker wat ‘n werker of administrateur of wildbewaarder ontmoet, bou verhoudings. As ons die terrein oppas en die veld met respek behandel, sal hulle dit raaksien en meer geneë wees om ons hier te verwelkom.
Kom ons gaan vir goud en maak seker ons kamp nog baie lank hier onder leiding van Offisiere van dieselfde kaliber as wat ons nog altyd op Lunsklip gehad het!
Oom Jan.
Dankie Guss!
Die nuwe webblad lyk baie goed, dankie vir die moeite en tyd wat jy hierin sit!
Ikone

Wys my wie bly in jou
vra my, raak my, vat my hart
sê my voel jy hoe dit brand
wil jy by my wees vanaand
Rock daai lyfie vertel my jy wil my ou bly
my in die bos in slinger en jy
rock daai lyfie vertel my jy wil nog saambly
<sê net wat’s die RENT>
of speel jy net met my
Bel my Baby ontstel my
dit is okay met my.
Rock daai lyfie omhels my
omdat jy wil.
Maar ek sien jy flirt met haar rond
by aantree vir etes, paradegrond
onthou jy is ‘n skurwe vent
haal my klere uit jou tent
Ek vir Jou…
Lunsklip het my vanjaar laat dink aan Chris Cameleon se CD “Ek vir jou.” Elke liedjie volg op die vorige een en stel die fases voor in ‘n verhouding tussen twee geliefdes.
“Eerste oogopslag” - Lunsklip slaan jou asem weg met die eerste ontmoeting; die veld, die mense, die tradisies.
“Ek dink ek hou van jou” - Hier begin die verliefdheid op ‘n kamp wat vol skoonheid is, baie gees en leiers van môre.
“Klein, klein jakkalsies” - Soms duik daar probleempies op wat maak dat jy ‘n kamp moet mis of vir die Selfies ‘n gebrek aan kos, baie reën en ver stap.
“Weer bymekaar” - Gelukkig kom ‘n mens oor die probleme en is jou liefde vir die kamp net sterker as tevore.
“Ek vir Jou” - As jy jou hart eers verloor op Lunsklip, sal jy enigiets doen om die kamp te laat lewe en ‘n verskil te maak.
Dit was vir my ‘n ongelooflike ervaring om vanjaar Groep 1 Meisies se offisier te wees - julle is almal sterre! En spesiaal vir julle die volgende stuk uit Amanda Strydom se liedjie:
“Verspreide donderbuie val nooit lank nie.
Verspreide donderbuie kom en gaan.
Die lig sal stadig deurbreek, die sterre sal bedaar.
Verspreide donderbuie vat nooit lank.”
Nig Ina-Mari
Taakmag Praatjies
Lunsklip is nie ‘n gebou, ‘n terrein of ‘n plek.
Dis nie ‘n saal of ‘n kombuis of ‘n trek.
Dis die mense en herinneringe wat op Lunsklip kom kamp.
Die woorde en konserte van die kinders en offisiere.
Die kampleiers en legendes wat hul merk hier kom maak in mense se lewens wat vir altyd by hul sal bly.
Dis die liedjies en die gebede en die dae in die veld.
Dis die vure en die reën, en parades en lag.
Niks kom daarby en niks is so eg.
Soos ons liefde vir die plek, die mense en ons Skepper.
Taakmag
Onder ‘n Kareeboom
Hier sit (of lê) ons in die veld onder ‘n kareeboom, die sonstrale wat so plek-plek kolle op die hangmat warm maak. Die radio raas in die agtergrond terwyl mense sinnelose inligting deurgee. Selfbehoud probeer hul bes om nie te verdwaal nie, Steven probeer sy bes om Koekie in die hande te kry. Die kitaar wat Marius speel is heeltemal uit, maar om een ander rede pla dit min, want hier is ek rustig, hierdie is my stukkie vrede. Weg van die geraas en die gejaag van dit wat ons doen vir ‘n lewe.
Anders as die vlieg wat lastig is, is daar min wat pla. Die vraag ontstaan, hoekom kamp ons net een keer ‘n jaar? O ja, voor ek vergeet, waar is die Main Train?
Danie Moller
Sondag by Sterretjies
Na middagete het ons lesinggewer, meneer Chris Reynecke, hom skielik uit die voete gemaak. Dus moes ons twee-liggaambrein- aanbieder die interessante vuurlesing uitdink …
Net jammer dat meneer Louis die foutjie begaan het om die gras langs die verhoog óók aan die brand te steek.
By noodhulp het Arina vir ons nuwe lid, Johan, deurgetrek (met CPR die drie H’s en baie simpatie) na ‘n groot noodgeval.
Dankie Arina. Hoop meneer Chris vat ons nou vir die swem …




