Sondag by Sterretjies
Na middagete het ons lesinggewer, meneer Chris Reynecke, hom skielik uit die voete gemaak. Dus moes ons twee-liggaambrein- aanbieder die interessante vuurlesing uitdink …
Net jammer dat meneer Louis die foutjie begaan het om die gras langs die verhoog óók aan die brand te steek.
By noodhulp het Arina vir ons nuwe lid, Johan, deurgetrek (met CPR die drie H’s en baie simpatie) na ‘n groot noodgeval.
Dankie Arina. Hoop meneer Chris vat ons nou vir die swem …
Liewe Lunsklip Offisiere
Dankie vir die leiding, dankie dat ek uit julle ervaring kan leer. Dankie vir julle onvoorwaarde-like verbintenis tot die Lunsklip ideaal.
Dankie vir harde werk en opofferings. Dankie dat julle soveel omgee vir die Afrikanerjeug.
Dankie dat julle saam beplan en droom oor die toekoms.
Marilie van der Merwe
In my hart…
In my hart glo ek dat ‘n mens nog nie werklik gekamp het totdat jy op Lunsklip gekamp het nie, en meer as enigiets anders is dit oor die mense - want die mense op Percy Fyfe IS Lunsklip. Dit is hier waar jarelange vriendskappe gesnoer word en daar is net ‘n gevoel van behoort in jou hart wat jy net nie aan jou vriende by die huis kan oordra nie. Hulle sal jou in elk geval nie glo as jy vir hulle sê dat jy vir ‘n week lank in God se paradys gekamp het nie.
Dankie aan elkeen wat 2008 se Lunsklip vir my ‘n belewenis gemaak het. Dankie vir elkeen wat vir my die voorreg gegee het om iets by hulle te kan leer. Mag God julle bewaar tot ons mekaar weer sien op Lunsklip in 2009.
En dan aan al die Selfies, ek sien uit daarna om oor die volgende paar jaar ook hegte vriendskappe met julle te snoer namate julle terugkeer na Lunsklip. Julle is elkeen ongelooflike mense met die vermoë om ‘n groot bydrae te lewer op Lunsklip in die toekoms. Gaan nou huis toe en laat altyd jou Vorie-vlam helder skyn - ek sien uit daarna om elkeen van julle weer volgende jaar op Lunsklip te sien.
Tot volgende Lunsklip
Monica Strydom
Noodwendig Musiek
‘n Noot vir die aankoms
om onsekerheid te kul.
‘n Noot vir al die stapwerk
‘n noot vir al die dril.
‘n Noot vir plesier - een vir Afrikaans
‘n noot wat voet kriewel tot dit deftig dans.
‘n Noot vir die reën, nog tien vir die veld
waarin swerwersbloed klop deur elke held.
‘n Noot vir die liefde
‘n noot net ek en hy.
‘n Noot vir ‘n glimlag
so iets nietigs kan verbly.
‘n Noot vir sonop en onder
‘n noot vir peins en wonder.
‘n Noot waarin klein jakkalsies kasty
‘n noot vir antwoorde van God naby.
‘n Noot vir elke ou kasie
‘n noot vir die maan se hasie.
Sing, mense, sing!
Met note wat vreugde bring.
Lilanie de Jager
Ballade van ‘n eks-Verkenner
So ek moet bieg: Ek was teleurgesteld in my nuwe offisier-ervaring op Lunsklip. Ek is nie meer ‘n
Selfie óf ‘n Varia-lid óf ‘n Sterretjie nie, en skielik moet ek myself (en ander) vermaak en werk doen(?).
Ek het half verwag om dieselfde ervaringe as my vorige jare op hierdie kamp te hê, tot ek besef het dat
my hele benadering verkeerd is: As offisier is jou plig nie teenoor jouself nie, maar teenoor die Verkenners
wat in jou sorg geplaas is. Die genot wat jy uit hierdie plig put mag dalk nie dieselfde wees as die genot wat
jy vroeër jare uit Verkennerwees geput het nie, maar ‘n genot is dit beslis. Dalk selfs ‘n dieper genot?
Maar saam met hierdie genot kom die verantwoordelikheid van gesag (ek vertrou elkeen vir hom- of haarself dit kan uitwerk …)
Ek kan my gesindheid teenoor Lunsklip ná afloop van my soetsappige innerlike worsteling dus beskryf as een van “Paying it forward.” Ek gaan van nou af poog om die Lunsklip-ervaring vir Verkenner kampeerders so goed en lekker te maak soos wat dit vir my eens was. Net soos al die ander eksverkenners op hierdie kamp.
Nina Rossouw
Liewe Selfbehouder
Dankie dat jy Lunsklip gekies het. Dankie dat jy kreatief was, dat jy opgewonde was, dat jy hard gewerk het. Dankie dat jy uitgehou en aangehou het.
Dankie dat jy om verskoning gevra het. Dankie dat jy my op my tone gehou het. Dankie dat jy vir jouself gedink het. Dankie dat jy jou medemens in ag geneem het. Dankie dat jy my weer laat glo in die toekoms van ons volk. Dankie dat jy my inspireer.
Ek hoop dat jy geleer het dat jy meer is as wat die wêreld jou laat glo jy is.
… dat jy meer is want Jesus het jou lief.
… dat jy meer is as wat jy voor Lunsklipkamp was.
… dat jy meer is as wat jy gedink het jy kan wees.
Gaan wys die wêreld.
Gaan wys jouself.
Wees meer !
Marilie van der Merwe
Liewe Lunsklip
Dit was vroegmiddag toe ek van die teerpad afgedraai het. Ek het by die spoorweg-oorgang gewag dat die trein verbyry voor ek op jou bekende grondpaaie gekronkel het tussen die klipkoppies en maroelabome deur. Vlagkoppie staan trots in die vlakte. Met die indraai agter die vlagpale, lê die vreugde vlak in my oë.
Ek het hier Selfbehoud in alle dimensies ervaar: Ek het gehardloop, sit-ups en push-ups gedoen, ge’dink’, natgereën, koudgekry, honger gely, kos gesoek, skuilings gebou en in 40 sekondes gestort. Ek het oor die paradegrond marsjeer.
Ek het geredeneer, planne beraam, opinies gelug, liedjies geleer, opsies oorweeg, konsert gehou, slim geword.
Ek het gelag, gehuil, bang geword, trots gevoel, gehoop, gedroom, vriende gemaak, liefgekry.
Ek het God se grootsheid ervaar en nederig geword voor Sy skepping. Ek het Sy beskermende hand ervaar in my lewe. Sy genade het my oorweldig. Ek het opnuut besef hoe groot voorreg dit is om Sy woord te kan uitdra.
Lunsklipkamp, my hartklop, my asemteug, my vreugde. Jou bly ek altyd getrou.
Marilie van der Merwe
Word ‘n Leier
Toe Jesus sy dissipels geroep het om Hom te volg, het nie een van hulle gedink dat daar later aan hulle uitdagings gestel sou word wat alleen deur heldemoed aangepak sou kon word nie.
So is nie een van ons altyd bewus van hoeveel reserwes daar êrens in ons weggesteek lê nie. Totdat ‘n sekere situasie opduik en die leier in ons na vore kom. Die samelewing het vandag baie nood aan etiese leiers. Daarmee bedoel ek mense wat hulle nie laat rondgooi deur veranderende winde nie, maar beginselvas en koersvas lewe.
So ‘n persoon was Paulus - met sy filosofie om nie lughoue te slaan nie, maar sekuur te mik en raak te slaan.
Was jy al so ‘n leier? Waar en wanneer het jy jou eie grense oorskry en iets gedoen waaroor jy jou later skoon verbaas het?
Ons wêreld soek mense wat met ‘n morele kompas deur die lewe loop en die mensdom weer in die rigting van God lei. Vir my was dit in baie opsigte ‘n eerste Lunsklip en dit is met groot dankbaarheid teenoor elke offisier wat my bygestaan en bemoedig het.
Lunsklip het beslis vir my die geleentheid gebied om tydens die 2008 kamp MEER TE WEES.
Neem leiding, verantwoordelikheid en verseker ons toekoms.
Die Kampleier
Malan
PS: Dankie Jan
Huldeblyk aan Xris Jordaan
Beste Selfbehoud, ek wil jou graag voorstel aan ‘n persoon wat diep spore getrap het in wat jy vandag ken as Lunsklip. Daardie mens is oom Xris Jordaan. Die kanse is goed dat jy nog nooit van hom gehoor het nie. Kom ek vertel jou. Hy is verlede jaar na ‘n kort siekbed oorlede. Hierdie is ‘n poging tot ‘n huldeblyk…
Ek het oom Xris leer ken in my Selfbehoud jaar net nadat hy oorgeneem het by oom Werner Louw. Oom Xris was Lunsklip se tweede kampleier. Ek het hom leer ken as iemand wat groot gedink het, my geleer het van selfbehoud en my aan ervaringe blootgestel het wat ek nêrens anders in my lewe gehad het nie. Hy het ‘n gawe gehad om die “gees van die tyd” só te lees dat hy dit weer op Lunsklip aan jong Verkenners kon oordra in ‘n vorm wat hulle uitgedaag het om hul gedagtes te rig op dit wat belangrik is en ‘n onseker toekoms met moed in te gaan. Hy het hulle uitgedaag om verder te dink en verder te kyk as wat hul huidige situasie toegelaat het.
Oom Xris was diep bewus van die Afrikaner se roeping in Afrika. Hy wou sien dat elke Afrikaner-jongmens sy Godgegewe roeping in Afrika en die wêreld inneem. Hy wou sien dat elke jong Verkenner - soos jy - leef as leier en voorloper in vooruitgang en die vestiging van ‘n Christen-beskawing in Afrika. Dat jy jou roeping hier voortsit soos God dit bestem het toe jou voorvaders aan die suidpunt van hierdie kontinent gevestig het.
Oom Xris was ‘n filosoof en baie welsprekend. ‘n Staaltjie op ‘n ligter noot. Hy kon baie lank filosofeer en sommer uit die mou uit vir omtrent ‘n half-uur lank gesels oor een of ander hogere onderwerp. Ek onthou hoe hy op keurkamp die taak gehad het om oor een of ander onderwerp te praat in die laat ure van die nag terwyl moeë Verkenners moes staan en luister…
In 1997 het oom Xris “afgetree” uit sy posisie as kampleier en was ek bevooreg om verder op persoonlike vlak met hom ‘n mentor verhouding te hê. Sy doel was altyd om jongmense te kry om hul eie persepsies, verstaan, idees en gevolgtrekkings oor die lewe, mense, bestaan en verhoudinge met ander deurlopend te herevalueer. Hy het my baie uitgedaag oor my eie opvattings oor my menswees en die toekoms en ek sal hom ewig dankbaar wees dat ek iemand soos hy geken het.
‘n Kort rukkie voor sy dood was hy besig met ‘n projek om ‘n nuwe vlag te identifiseer wat vir die Afrikanervolk as nuwe simbool van sy identiteit te kan dien. Soos altyd was hy besig met die Afrikanersaak en die jeug van die toekoms was altyd voorop in sy gedagtes.
Daar is nie woorde of slim frases wat oom Xris Jordaan se bydrae tot Lunsklip kan beskryf nie. Oom Xris en sy gesin het vir baie jare saam op Lunsklip gekamp. Tannie Ria sy vrou, Karla, Pieter-Willem en Cobus het elkeen op ‘n besondere manier ‘n afdruk op die kamp gelaat. Oom Xris was baie lief vir die Lunsklipomgewing maar veral vir jongmense en die Afrikanerjeug van more. Oom Xris se nalatenskap was onder meer die Selfbehoudkenteken wat op verskeie Selfbehoudkampe in die Voortrekkers aangebied word. Dit is as volwaardige kenteken vir die eerste maal hier op Lunsklip aangebied. Hy het Selfbehoud soos volg gedefinieer:
“Selfbehoud is die proses van waarneming, waardering en bewaring van natuur en kultuur deur die Afrikanermens in die uitvoering van sy Godgegewe kultuuropdrag om SY Skepping te bewerk, te bewaak, te heers oor alles wat lewe en om mede-volksgenote te leer om alles te onderhou wat God ons vanuit sy Woord-en Skeppingsopenbaring beveel het.”
Dankie oom Xris, dit was ‘n voorreg om jou te ken. Dankie vir jou omgee en liefde vir die Afrikanerjeug. Dankie vir jou leiding en dat jy vir my vensters oopgemaak het.
Gustaf Pretorius



