“Die gewyde majesteit van die dagbreek oor die veld! Dis 'n wonderlike belewenis om die yl, donsige wolkies te sien verkleur van swart na purper, van purper na rooi, goud, oranje, rooskleurig en wit; om die verheffende gevoel te kry en die lewensbloed deur jou are te voel bruis; die koel, doubelaaide lug in jou neus, verkwiklik en welriekend. Jy is een met die lewe en die skepping terwyl jy voortry oor die ontwakende veld en die wuiwende nat gras van die rante en vlaktes. Dis anders as die ewe pragtige sonsondergang wat 'n dag afsluit, 'n afmattende reis ten einde bring, en jou laat dink aan die einde en die dood in plaas van die vars en fris begin van die lewe vol verwagtings en hoop. Die aanbreek van 'n nuwe dag oor die veld laat hoop en emosies en ambisies in jou ontsluimer soos niks anders dit doen nie. 'n Mens leef in harmonie met die skepping en voel te veel soos die verhewe wese waarin ons besig is om te ontwikkel, om jag te maak op die verskrikte veld-diere wat wegdraf of in hulle gate terugvlug.”
deur Roland Schickerling - 13 Augustus 1901, Hoe Ry die Boere - Joernaal uit die Tweede Vryheidstryd