VOETSLANER, KAART EN SATELLIETKOMPAS

INLIGTING

Algemene inligting vir die Voetslaner, Kaart en Satellietkompas Kenteken. Hierdie inligting is ook in die kampbrief maar as jy iets gemis het, sien onder.

LUNSKLIP 2026

Die 64ste kamp, en jy is deel van hierdie spesiale jaar – die tweede op ons nuwe terrein.

KAMPDATUM

Die kampdatum vir Voetslaner en die ander junior groepe is 31 Maart tot 5 April 2026.

Reisreelings:
  • Die bus na die kamp vertrek op 31 Maart om 09:00 vanaf die Voortrekkermonument.
  • Voorsien jou eie middagete op die bus.
  • Die bus arriveer weer om ongeveer 18:00 op 5 April by die Voortrekkermonument..
  • Die bus stop slegs by een vulstasie langs die pad en dit is net vir bene rek en badkamer toe gaan. Daar word niks gekoop nie.
  • Verkenners wat nie met die bus ry nie moet op 31 Maart voor 14:00 op die kampterrein wees en kan op 5 April om 12:00 gehaal word. Kontak ons by lunsklipkamp@gmail.com vir aanwysings na die kamp.
Inpaklys vir Voetslaner/Kaart, Kompas en Sateliet
  • Aktiewe drag vir Seremonies (klein sak)
  • Slegs spesiale voorskrifmedisyne – ons verskaf basiese noodhulp
  • Staprugsak met binne- of buiteraam en gemaklike heupgordel en skouerbande waarin al jou stapgoed pas – geen dagrugsakke nie
  • ’n Reënbedekking vir jou rugsak keer dat jou goed nat word as dit reën
  • Stapskoene – moet ingeloop wees; ou tekkies is dan beter as splinternuwe stapskoene!
  • Stapkouse – verkieslik dikker kouse van natuurlike materiaal soos wol en katoen
  • Kamaste (gaiters) hou jou kouse droog en beskerm dit teen steek- en klitsgrasse
  • Plakkies/sandale om na ’n dag se stap, saans aan te trek
  • Slaapsak – nie te swaar nie
  • Sonbrandmiddel en Insekafweerder soos Tabard of Byticol (nogal duur maar baie effektief teen bosluise)
  • Flits en ekstra batterye – baie belangrik; ‘n Fluitjie om te blaas indien daar ‘n noodgeval is
  • Reëndigte baadjie of Poncho (goedkoop by buitelugwinkels beskikbaar)- dit gaan reen
  • Warm baadjie en ’n lang broek. Nie ’n parka nie (vat tr veel plek) Puffer baadjies is nie reen dig nie!
  • Hoed met ’n breë rand – nie ’n pet nie
  • Fluitjie
  • Droë paar kouse vir elke dag, hemp en onderklere (beperk tot die nodigste)
  • Tandeborsel en tandepasta, enkellaag toiletpapier
  • Eetgerei, beker, plat bord, papierborde (NB!), bakkie vir pap/poeding, Seep in klein houer, vadoek
  • Stapstofie en aluminium potjies indien jy het. Ons kookspanne bestaan uit 4-5 persone en een stofie per kookspan is nodig
  • Jou eie Hangmat (as jy het) anders sal ons een voorsien
  • Ligte seiltjie vir skuiling as jy het anders sal ons een voorsien
  • 4x ligte tentpenne as jy het
  • Waterbottel(s) ten minste 2 liter 2l water + 1l koeldrank. Coke bottels werk goed! – drinkwater is slegs by oornagpunte beskikbaar
  • Klein verkyker as jy het, kamera, notaboekie en potlood/pen (opsioneel)
  • ’n Stapstok (opsioneel) Besemstok of black wattel werk goed
Laai die INPAKLYS (TIK AF) hier af.
riglyn vir sak pak

Sportsak / Kamp­-sak

Pak ’n sportsak of kleiner rugsak met skoon klere, Voortrekkerdrag, toiletware en ’n handdoek. Hierdie sak bly by die kamp en is noodsaaklik.

Met aankoms sal alle rugsakke uitgepak en herpak word sodat die kos gelykop tussen die stappers verdeel kan word.

Rugsak

Pak al jou klere en slaapsak binne-in ’n stewige plastieksak (dikker as ’n gewone swartsak) voordat dit in die rugsak geplaas word. Dit dien as beskerming teen reën, water en vog. ’n Groot Makro-sak werk uitstekend en kos ongeveer R2.

NB: DIE GEWIG VAN JOU RUGSAK MAG NIE JOU EIE GEWIG GEDEEL DEUR VYF OORSKRY NIE!!

Byvoorbeeld: As jy 50kg weeg, mag dit nie meer as 10kg weeg nie.

Onthou 2 liter water weeg 2kg, jou kospakkie, wat aan jou verskaf word, van ongeveer 2kg moet ook nog moet bykom.

’n Swaar rugsak kan jou stapervaring bederf en jy kan met minder dinge klaarkom as wat jy dink!

Daar is heelwat videos op Youtube oor die regte manier om jou sak te pak. Sien onder:

Verbode
  • Alle wapens, sigarette, e-sigarette, alkohol ,gewoontevormende middels, vuurwerke,vuurhoutjies, aanstekers. Dit sal gekonfiskeer word en jy sal dit nie terugkry nie.
  • Geen SANW kamoefleerdrag mag gedra word nie. Dis teen die landswet.
  • Geen rekbroekies vir die dogters
  • Geen bandjie hempies vir dogters
  • Geen help-my-sterk-lyk-hempies vir seuns
  • Geen vapes, sigarette, drank en ander dwelms nie
  • Los jou “slim” horlosie by die huis.
selfone

Selfone en ander kosbaarhede word ingeneem vir die duur van die kamp. Dit is beter/veiliger om dit tuis te laat.

Noodkontak

Dringende boodskappe kan by die kampleier, Malan le Roux (071 609 5167) of die kampsekretaresse, Janie van Heerden (082 582 6354) gelaat word.

mediese sorg
  • Ouers kan voorgeskrewe medisyne saamstuur kamp toe met duidelike, geskrewe instruksies vir die toediening daarvan op die aangehegde vorm. Dit word ingeneem en volgens die voorskrif toegedien. Moet asseblief nie onnodige medisyne, soos pynpille saamstuur nie. Dit word ook op die kamp ingeneem.
  • Bysteek- en asmamedikasie moet saamgebring en te alle tye aan die persoon gedra word.
  • Slegs basiese noodhulp word op die kamp verleen. In ernstiger gevalle sal die ouers gekontak word en reëlings sal getref word. Indien dit regtig noodsaaklik is dat ‘n kind na ‘n hospitaal geneem moet word sal die ouers vir die rekening aanspreeklik gehou word.

Vir algemene kampnavrae, kontak Janie van Heerden by lunsklipkamp@gmail.com of skakel  082 582 6354.

Gaan kyk gerus op facebook na die groep Lunsklip ‘n voorsmakie van die kamp te kry.

NAVRAAG